Die missie van Mimi Moya Wild NPO (Nie Wins Organisasie) is om wildernisgebiede in Suid-Afrika te bewaar. ‘n Belangrike meganisme hiervoor is om plaaslike gemeenskappe bewus te maak van ons fauna en flora se waarde vir die land en planeet.
Werkswinkels met ‘n fokus op omgewingsopvoeding leer plaaslike kinders van die veld asook ons taak om vir die planeet te versorg. Ons hoop om jong veldwagters en veldgidse te ontdek en die nodige ondersteuning te gee vir hulle studies. Sodoende kan hierdie belangrike werk meer volhoubaar wees en die bewussyn rondom die waarde van ons wildernisgebiede uitbrei. Verder skep die projek werk vir naburige gemeenskappe in die vorm van omgewingsopvoeding, anti-stropery, verwyder van indringerplante, onderhoud van wildheinings en opnamestudies van fauna en flora.
Ons probeer self natuurlik ook ons deel bydrae tot die bewaring en herstel van ons wildernisgebied deur onder andere ekologiese veldbestuur.
By Mimi Moya pas ons roterende / drukbeweiding deur die Nguni beeskudde toe, om sodoende seisoenale kudde migrasie na te boots. Die beeskudde word vir ‘n kort periode op ‘n relatief klein gebied gekonsentreer, gevolg deur ‘n lang rusperiode vir die bepaalde gebied. Sodoende word die natuurlike grasveld se reserwes, wat in die wortels gestoor word, nie uitgeput nie en kry dit voldoende kans om volledig te herstel voor ‘n volgende beweidingsrondte.